Categories
Uncategorized

Krisiskissie vir jou troudag

Na maande se beplanning breek jou troudag aan en dis tyd om die vrugte te pluk van jou harde werk. Ongelukkig verloop alles nie altyd volgens plan nie, so wees voorbereid…

Volgens Veronique Joseph moet elke bruid ’n krisiskissie byderhand hê, sodat sy die klein jakkelsies kan oorkom en kan lag oor elke struikelblok wat haar troudag mag bring.

Sy verklap watter items so ’n krisiskissie moet bevat, wat jy onder die bekwame toesig van jou strooimeisie kan los om jou stresvlakke in toom te hou.

NAALDWERKSTEL – ’n Baie handige item vir as een van die strooimeisies se rokke haak of die bruid se rok probleme gee. Moenie die klein detail vergeet nie, want dit mag dalk net op jou troudag probleme veroorsaak.

BOTTEL WATER EN PEUSELHAPPIES – Met al die opwinding van die dag, mag die bruid of bruidegom dalk nalaat om te eet… en flou wees teen die tyd wat die foto’s geneem moet word. Voorkom dat een of albei van julle omkap deur water en peuselhappies in jou kissie te hê.

HAARKNIPPIES – Op jou troudag, gaan baie kiekies geneem word en elke haar moet in plek wees. Maak altyd seker daar is knippies byderhand om elke klein haartjie, prentjiemooi te hou. Foto’s is lewenslank en daarom moet jy op jou beste lyk.

SNESIES – Ons almal weet hoe belangrik die is. Trane gaan gedeel word en snesies gaan altyd handig wees op enige troudag… dalk vir die bruidegom ook.

ID, MEDIESE KAART, PAAR LOS NOTE EN SELFOON – Wees altyd naby jou identiteitsdokumente, jy weet nooit wanneer jy dit gaan nodig hê nie. Wees altyd voorberei vir enigiets, want jy weet nooit wat mag skeefloop…  of waarheen jy dalk ‘ontvoer’ kan word nie.

TAMPONS – Dis nie noodwendig net vir jou nie, maar jy kan self paar vriendinne om jou red as die rooimaand vir hulle kom kuier het. Stres is ’n snaakse monster en kan jou soms onkant betrap.

BABAPOEIER – Op ’n warm somersdag is hierdie jou oorlewingspoeier om sweet uit foto’s te verwyder. Maak seker jy ruik lekker en hou jou onderarms en gesig droog en vars.

KLEIN NOODHULPKISSIE – Ongelukke gebeur… selfs op jou troudag. Maak seker dat jy die nodige byderhand het, net vir ingeval.

KLEIN BOTTEL WHISKY – Want jy mag dalk net ’n skoot nodigkry wanneer die senuwees knaag.

GRIMERINGVERWYDERAAR – Dis altyd handig wanneer jy grimering moet regmaak of selfs na die aand te moeg is om jou gesig te was. Jy wil beslis nie met gesmeerde grimering wakker word op jou eerste dag as ’n mevrou nie!

Daar volg is seker nog baie nodige items, maar hierdie paartjies sal beslis jou dag minder stresvol maak. Die dae van onbeplande stres is verby! Bruide as jou krisiskissie reg is, kan jy jou troudag met selfvetroue aanpak!

Foto: Hitched

 

 

 

Categories
Uncategorized

Verona Goslett se intieme troue gedurende grendeltyd

’n Mooi en intieme troue vir sangeres, Verona Goslett, het die groot bruiloffees wat aanvanklik beplan was vervang. Minette Badenhorst verklap meer oor hulle spesiale dag.

As gevolg van die Covid-19 pandemie en die nationale inperkings, kon Verona en FP nie hulle troue hou soos wat hulle beplan het nie. 

Maar met die verligting van sekere inperkings, het hulle die kans gegryp om steeds hulle boheemse troue te hou, al was dit ’n baie kleiner weergawe. Ons gesels met die gelukkige paartjie oor hulle groot dag.

HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN? “Ons het ongeveer nege jaar gelede ontmoet deur ’n geliefde tannie wat ons albei ken. Ons het net eenvoudig “gekliek” soos hulle sê.”

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK?Verona: “FP het die mooiste hart. Nog nooit het ek gesien dat hy lelik is met iemand nie. Hy kom ook van die stad af en ek het sy wyer perspektief oor die lewe en breër algemene kennis bewonder. Ek en hy kan oor enigiets gesels en op ’n volwasse manier debatteer oor kwessies.”

FP: “Sy is ’n aangename en vriendelike mens en natuurlik is sy mooi ook.”

WANNEER HET JY GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL IS? “Hy sal altyd die storie vertel van toe hy my die eerste keer gesien het. Dit was nie eers ’n buitengewone spesiale oomblik of dag gewees nie. Hy het my net uit die kar sien klim. Dit was blykbaar toe dadelik vir hom genoeg om my beter te leer ken. Toe hy later nog met my gesels en hoor dat ek intelligent ook is, is die koeël deur die kerk en die res is geskiedenis.”

Ek het net geweet. Dit het alles van die begin af gewerk. Ek dink nie daar was een spesifieke oomblik of dag wat ek geweet het nie. Dit was eerder ’n samekoms van dinge. ’n Mens leer uit vorige verhoudings wat reg en verkeerd was vir jou en verbeter op dinge wat jy aan kon werk. Ek dink jy besef ook wat jy uit ’n verhouding wil hê as jy deur voriges was wat nie uitgewerk het nie.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA? “FP is in konstruksie en het sy eie loodgieterbesigheid. Hy moet gereeld na plekke of persele gaan om kwotasies te doen. Hy kry toe, onder andere, moontlike werk op ’n plaas net buite Parys in die Vredefortkoepel. Hy vra toe of ek die dag saam met hom sou ry, sodat ons na die tyd my verjaardag kon vier met ’n lekker ete in Parys. Maar eintlik het hy saam met die eienaar van die plaas die verlowing op die mooiste koppie beplan. Aanvanklik kon ek nie verstaan hoekom ek moet saamgaan na die “plek” waar die werk gedoen moes word nie. En toe, na die soveelstedraai en opdraande, net voordat ek begin agterdogtig raak, sien ek toe ’n banier met die woorde in rooi: ‘Verona, sien jy kans om ’n leeftyd met my te deel. FP’.  Dit was prentjiemooi. Toe gaan hy op sy kniee en vra my die groot vraag. Ek het die ring van my drome gekry! Ek was nog nooit gaande oor diamante nie, maar toe ek eendag die mees unieke salt and pepper diamant op sosiale media sien, was ek verlief en FP het onthou! Die ring is deur ʼn familievriend gemaak wat ook beide sy susters se trouringe ontwerp het.”

MET DIE HELE COVID PANDEMIE EN GRENDELTYD, IS JULLE AANVANKLIKE PLANNE IN DIE WIELE GERY. WAS DIT VIR JULLE ’N MOEILIKE BESLUIT OM EERDER DIE KLEINER TROUE TE HOU OF HET JULLE OORWEEG OM DIT UIT TE STEL? “Ons het ons aanvanklike troue uitgestel van 4 April 2020 na 29 Augustus 2020, wat ook nie gaan plaasvind nie. Dus het ons probeer om na twee ander datums te kyk, maar dis verskriklik moeilik om al die verskaffers almal op een datum weer beskikbaar te kry. Intussen het ons alles probeer om net sommer saam met ons ouers en die pastoor te trou, maar die beperkings ens. het alles in die wiele gery.

Toe ons sien dat ons op vlak drie ’n huweliksertifikaat kan kry en dat dit die beperkings ietwat verlig, het ons dadelik die kans aangegryp.”

WATTER REËLINGS EN BEPLANNING HET DIE KLEINER TROUE VEREIS? “As ek reg onthou is vlak drie van die grendeltyd die begin van Junie ingestel. Ons het toe die reëlings begin tref. Met die grendeltydperk het dit ook so gebeur dat ons aanvanklike huurhuis nooit klaar gebou is nie en dus kon ons ook nie daar intrek nie. Maar alle dinge gebeur met ’n rede en ons het intussen die kans gekry om my ouma se ou huisie te huur omdat sy aftreeoord toe getrek het. Ons het in drie weke ’n huis opgeknap, getrek en getrou! Ek raai dit vir niemand aan nie!

Die kerkie is ’n klein juweel in Henley-on-Klip, letterlik ’n klipgooi van my ouers se huis af. Daar kan skaars 20 mense sit, maar dit is absoluut pragtig en presies wat ons nodig gehad het. Ons is al so lank in Meyerton dat almal kennisse is en ons het vinnig met die eienaars van die familiekerkie kontak gemaak om daar te kan trou. Dit is op Millbrook Estate.”

Ek en my ma het my wit romp, toppie en oorbelle teen ’n GROOT winskoop by YDE gekoop. Ek het van my ou leerstewels aangetrek, want die dag was toe ’n bietjie koud. Ek het my hare en grimering self gedoen en terwyl ek klaargemaak het, was my gevolg in die agtergrond op ’n video call daar om my te ondersteun en geselskap te hou. FP se broek, hemp en skoene is van Woolworths en die baadjie iets wat hy alreeds in sy kas gehad het.”

Net die naaste familie het dit bygewoon. My man het twee susters en ek is die enigste kind. Dit was wel ongelooflik moeilik om mense te nooi en weer ander nie daar te hê nie. Jy wil veilig bly in ons huidige omstandighede, maar wil tog die naaste aan jou daar hê. Ons het dit dus klein gehou en het maskers en handreiniger heeltyd naby gehad. Elkeen wat die dag bygewoon het, het ook ietsie saam gebring om te eet. Ons wou die kostes so laag as moontlik hou en het oral probeer spaar, want ons het tog reeds vir ’n hele troue betaal en wag net om dit eendag te kan hou.

Al ons vriende is so bly vir ons en wag vir die dag wanneer hulle dit saam met ons kan vier.”

WATTER DEKOR HET JULLE GEBRUIK? “Ek het vlugtig een dag gaan droë blomme koop by die mark en dit sommer self gerangskik. Dit is lank voor die tyd gedoen en kon net regstaan vir die troudag. Hierdie blomme het ons sommer vir die foto’s gebruik en ook na die tyd na my ouers se huis geneem as rangskikkings op die tafels. Die wit kruike is ou weggooigoed wat ek met wit kalkverf bygekom het.

My kransie, blomme en my man se boutonniere is deur ons aanvanklike troue se bloemis gemaak.

Die kerkie het ons met kerse belig en ek het my niggie se mat geleen vir die paadjie. Ek het ook een van my ma se ou matte buite gegooi vir iets ekstra mooi. Ons het sjerrie en koffie bedien voor die troue wat elfuur begin het.

Ek het ook die oulikste fotograaf daar gehad, Lelanie de Beer van Lemon Leaf Photography (Hooffotograaf). Haar vriendin, Meghan Butler, het saamgekom vir ’n bietjie ekstra ervaring. Haar foto’s van ons kan op haar Facebookblad, Photos by Moonchild, gesien word.”

IS DAAR OOMBLIKKE VAN DIE TROUE WAT VIR JOU UITSTAAN? “Die dag was perfek. Dit het gevoel of almal toevallig volgens die kleurskema aangetrek het! Ek het met ’n ligblou Volla opgedaag van Michael James Motors in Alberton, ’n kennis van ons met ’n versameling van die mooiste ou motors.

Die diens is gelei deur ons oorspronklike pastoor, Willie Coetzee van Alberton Lewensentrum, en die instap- en uitstap- en agtergrondmusiek is behartig deur ’n familielid.

Daarna het ons sjampanje geniet en foto’s geneem. Die nuuskierige perde op die hoewe en hondjie wat daar opgedaag het, het gesorg vir die mooiste foto’s! Ek dink die Schnauzer was ’n engel wat kom geluk sê het.”

WATTER RAAD HET JY VIR ANDER BRUIDE WAT NOU SOU TROU OF WAT NOG BEPLAN OM IN DIE JAAR TE TROU? “Ons wou regtig graag ons groot bruilof hê, maar dinge is so moeilik. Kry nou die formaliteite afgehandel en wag dan om die groot bruilof op  ’n ander stadium te hou. In ons geval is ALLES klaar betaal. Ons het ’n week voor ons troue uitgestel en wag nou maar in spanning en kyk wat gebeur.”

ENIGE EKSTRA INLIGTING OF RAAD WAT JY GRAAG SAL WIL DEEL?  “Ek dink hierdie pandemie gaan ons anders na dinge laat begin kyk. Ek sou dinge anders gedoen het as ek geweet het. Deur alles voel ek skuldig as ek kla of hartseer is oor my troue wat nie kan gebeur nie, want daar is soveel groter en erger dinge aan die gebeur.”

Kliek hier om Verona se nuwe enkelsnit, VOORWAARDES, wat sy vir die liefde van haar lewe geskryf het, af te laai.

DIENSVERSKAFFERS:

Venue: Millbrook Estate in Henly-on-Klip

Spyseniering: Warm gekookte boerekos by bruid se ouerhuis

Blomme:  Salvador Dahlia Flowers, Monette Ferreira

Foto’s: Lelanie de Beer, Lemon Leaf Photography en Megan Butler, Moonchild Photography

Bruid uitrusting: YDE

Grimering en Hare: Self gedoen deur bruid

Troukar: Ligblou Volkswagen Kewer van Michael James Motors in Alberton

Ringe: CRB Jewellers

 

Categories
Uncategorized

Uit die hart van ’n bruidegom

Christiaan Baartman se nuwe enkelsnit en musiekvideo gee die bruidegom se perspektief van die troudag. Minette Badenhorst deel meer hieroor in vandag se artikel.

Christiaan Baartman se splinternuwe enkelsnit, My Vrou, is onlangs aan radiostasies landswyd vrygestel en nou volg die hoendervleismooi musiekvideo van dié hartroerende liefdesliedjie wat ’n blik gee op die troudag vanuit die bruidegom se perspektief.  Die lied en video is ’n verklaring van ’n man se liefde aan sy vrou en dat hy altyd daar sal wees. “It takes two to tango en met die lied hoop ek om die spesiale dag te help vorm in albei se oë”, sê Christiaan wat hierdiepragtige lied saam met Jattie de Beer geskryf het.

Hy vertel ons meer oor die inspirasie en motivering agter dié enkelsnit.

WAT WAS DIE INSPIRASIE / IDEE AGTER DIE LIEDJIE? “In die agtienjaar wat ek al in die bedryf is het ek honderde troues gedoen. Wat ek agtergekom het, is dat die bruidegom soms nie heeltemal deel vorm van die dag nie. Ons gee nie altyd om wat die verskil tussen pienk of salm is of watter kleur die rose moet wees nie, daarom gebeur dit dat die man so ’n bietjie onttrek van die dag.

So is ons ook nie gewoond om te sê hoe ons voel nie. Daar is laasjaar aangedui dat 50% van huwelike eindig in egskeidings. Die grootste oorsaak is ’n gebrek aan kommunikasie. Ek wou ʼn lied skryf wat vir mans ʼn spreekbuis gee. Iets wat die bruidegom vir sy bruid kan gee en sê: ‘My ding ek kan nie altyd vir jou sê hoe ek voel nie, maar hierdie lied sê alles wat ek wil sê.’ Dit was my inspirasie, om die bruidspaar te help met die dag se woorde.”

IS DAAR IEMAND SPESIAAL IN JOU LEWE WAT DIE LIEDJIE GEÏNSPIREER HET? “Die lied is geïnspireer deur mense. Ek is baie lief vir mense en dit maak my hartseer om mense in pyn te sien. My spesiale dame is nog daarbuite êrens.”

WAT WOU JY DEURGEE MET DIE MUSIEKVIDEO?  WAT WAS DIE GEVOEL WAT JY MET DIT WOU SKEP? “Die emosie waardeur mense gaan op die troudag. Die video beeld die belangrikste oomblikke uit van die dag, en ek wou daardie emosie uitbeeld.”

WATTER EIENSKAPPE SOEK JY IN ʼn LEWENSMAAT? “Empatie en ʼn spanmaat. Dit is so belangrik om gehoor te word, en die grootste deel van ’n lewensmaat is om iemand te hê wat jou lewe deel. En iemand wat jou geluk en smart kan verstaan.”

WATTER RAAD HET JY VIR GETROUDE PAARTJIES OM DIE HUWELIK GESOND EN GELUKKIG TE HOU? “Ek was nog nooit getroud nie, maar daar is ’n fenominale boek wat ek vir julle kan voorstel –  Hold Me Tight deur Sue Johnson. Die kwaliteit van verhoudings word gedefinieer deur belangrike emosionele oomblikke en om mekaar se oomblikke saam te ervaar.”

HOE SAL JY DIT BESKRYF WANNEER JY WEET JY HET JOU TROUVROU ONTMOET? “Liefde is ʼn werkwoord. Dit gaan nie net oor hoe jy voel nie, want gevoelens kom en gaan.  Dit gaan oor wat jy weet. Ek weet die persoon is my lewensmaat.”

ENIGE ANDER RAAD VIR DIE MANNE OOR HOE OM HULLE TROUVROU TE BEÏNDRUK EN OM HAAR SPESIAAL TE LAAT VOEL? “Ek het net voor inperking by ’n troue gesing, waar amper alles gekanselleer is. Die bruidegom het ingespring en net dinge begin doen wat kortgekom het. Hy het tot die blomme rangskikkings gedoen met die hulp van ʼn paar vriende en blomme wat hy in die hande kon kry.

Die dag is dalk net ’n simboliese oomblik vir die res van julle lewe saam, maar wys vir haar jy kom na die tafel toe.  In meer as net geld, don’t tell me, show me. Om jou liefde te wys beteken baie meer as om beloftes te maak.

En onthou, liefde wen. Hou net aan wat jy doen. Die sleg sal ook verby gaan. Hou moed en hou kop. Lewe is te kort vir nonsens.”

Luister My Vrou hier! Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms.

Dit is die perfekte lied vir enige bruidegom wat sukkel om sy gevoelens vir sy trouvrou in woorde om te sit.

Foto: Pink Flower Productions

Categories
Uncategorized

Toegewyde liefde

Reinard en Tania Kruger het hulle toegewyde liefde aan mekaar bewys deur nie terug te staan vir die Covid-19 beperkings op troues nie, maar steeds voort te gaan met hulle troudag.

Reinard, die baskitaarspeler en agtergrondsanger van die musiekgroep, Wit Kasteel, vertel ons meer van hoe hulle die knoop tydens inperking deurgehaak en hulle liefde virewig het, asook bietjie meer oor die viermanskap se nuutste enkelsnit Toegewyd.

WAT WAS JULLE OORSPRONKLIKE IDEE VIR JULLE TROUDAG EN HOE MOES JULLE DIT AANPAS BY DIE COVID-19 REGULASIES?

“Ons oorspronklike plan was ʼn intieme troue, met naaste familie en vriende, by ʼn venue in Pretoria. Die idee was om ons spesiale dag net met ons geliefdes te deel en ʼn lekker kuiergeleentheid daarvan te maak en ons liefde te vier. Die Covid- 19 regulasies het veroorsaak dat ons die aangeleentheid ongelukkig moes uitstel, maar darem nie afstel nie.”

WIE WAS ALMAL BETROKKE OP DIE DAG?

“Die inperkingreëls het net toegelaat vir twee getuies en die dominee. Ons moes natuurlik ook ʼn fotograaf, Jeanie de Klerk Photography, saam nooi om ons spesiale dag vas te vang. Tania se ouers woon in Limpopo, daarom het ons dit goedgedink om eerder Reinard se broer en skoonsuster te nader om getuies te wees.”

VERTEL ONS MEER VAN JULLE TROUDAG…

“Ons is die oggend na die kerkkantoor in Centurion, waar Ds. Albert ons ingewag het. Daar het ons al die Covid-19 veiligheidsprosedures gevolg en die kerkkantoor binnegegaan. Ds. Albert het ʼn pragtige gebed oor ons uitgespreek en so het die formaliteite begin. In ʼn japtrap was ons liefde verseël as Meneer en Mevrou Kruger. In die kerk se tuin is daar vinnig foto’s geneem en daarna het ons verdaag vir ʼn feesviering by Werner en Liesel se huis. Hulle het vreeslik baie moeite gedoen met sjampanje, versierings en selfs ʼn troukoek.”

VERTEL ONS MEER OOR WAT DIE ERVARING JULLE GELEER HET?

“Roetine is belangrik, asook bly by julle besluite, al verloop dit nie volgens plan nie.”

 HOEKOM HET JULLE NIE TOT VOLGENDE JAAR GEWAG OM TE TROU NIE?

“Ons is al vyf jaar saam as ʼn paartjie en al agtienmaande verloof. Ons het voorberei om 2020 ons troujaar te maak. Die onsekerheid aangaande die inperkingreëls en hoe lank dit nog gaan voortduur, het ons laat besluit om by ons datum te hou al moes ons ons planne bietjie aangepas het.”

BEPLAN JULLE FEESVIERINGE VIR LATER SAAM VRIENDE EN FAMILIE?

“Die oorsproklike planne bly staan, die datum moet net nog bevestig word. Sodra die regulasies verslap ten opsigte van troues, maak ons seker dit is ʼn geleentheid om te onthou. Nie alle trou-paartjies kry die geleentheid om hul troudag nog ʼn maal te herleef nie.”

VERTEL ONS MEER VAN WIT KASTEEL SE NUWE ENKELSNIT, TOEGEWYD?

“Die liedjie kom uit die groep se eie pen en is saam met Hugo Ludik van Muse Studios aanmekaar geslaan. Die liedjie gaan oor die moeilike tye in die lewe. Die doel is om mense te bemoedig om in sulke tye ‘toegewyd’ te bly aan hulleself en om aan te hou en deur te druk. Jou verlede bepaal nie jou toekoms nie, maar eerder jou positiewe gesindheid. Die moeilike tye bou karakter. Moet dit nie vergeet nie, maar leer daaruit en gebruik dit tot jou voordeel.”

Reinard en Tania het die boodskap van Wit Kasteel se nuutste enkelsnit, Toegewyd, uitgeleef deur nogsteeds te trou en net hulle beplanning en datum aan te pas. Hulle inspireer ander bruidspare met Toegewyd se boodskap om moeilike tye tot jou voordeel te gebruik. Op die ou einde van die dag, wen liefde altyd.

Troukoors-lesers kan die enkelsnit gaan aflaai by http://smarturl.it/luister-toegewyd.

Wit Kasteel kan ook op die volgende media skakels gevolg word:

Facebook:https://www.facebook.com/WitKasteel/

Instagram: @witkasteel

Twitter: @witkasteel

Webblad:www.witkasteel.co.za

YouTube:https://www.youtube.com/user/witkasteel

Artikel: An-Sophie Jonker

Categories
Uncategorized

Troues op Vlak 3

Troues mag nou op vlak 3 van inperking plaasvind, maar onder streng reëls en regulasies. Lees verder as julle die knoop dringend wil deurhaak.

Paartjies was nog die heeltyd op hete kole sit en wag om te trou, mag nou op vlak 3 van inperking in die huwelik tree.

Maar nee, vergeet maar eers van pragtige troudekor, jou droomrok en trougaste, want troues mag slegs in die hof plaasvind! 

Volgens die minister van Binnelandsesake, Aaron Mosoaledi, kan troues by Binnelandsesake plaasvind met ‘n maksimum van twee getuies. 

“Ons laat geen huwelikseremonies toe nie, maar paartjies kan in die hof troue. Die reëls is egter duidelik – geen gaste of feestelikhede sal toegelaat word nie,” het hy gesê.

“As paartjies besluit om in die kerk te trou, sal dieselfde reëls geld en sal daar nie meer as twee getuies toegelaat word nie.”

Binnelandsesake se kantore sal nou ook oop wees vir diegene wat kleingoed wil registreer of ID’s moet afhaal.

Die wêreld van troues is tans baie anders as wat ons ooit gedink het dit sal wees. Maar dis nie onmoontlik om jou geliefde se vrou te word nie… en wie weet dalk kan julle binnekort hierdie geleentheid met ‘n intieme geleentheid vier wanneer mense weer by mekaar mag kom.

Foto: Market Watch

Categories
Uncategorized

Verona Goslett vier die liefde… al moes sy haar troue uitstel

Gelukkig laat die liefde hom nie onderkry nie, nie eers deur ’n pandemie wat troudagdrome en lewens verwoes nie.

Omroeper, televisieaanbieder en joernalis, Verona Goslett, het pas ’n pragtige ballade oor die liefde met die naam, Voorwaardes, bekendgestel.

Alhoewel sy dit graag vir haar verloofde sou wou speel op hulle troue, moes hulle hierdie spesiale dag uitstel as gevolg van die Covid-19 pandemie. Dié siekte kon haar egter nie keer om wel dié liedjie, wat sy spesiaal vir hom geskryf het, met die publiek te deel nie.

Ons het met haar gaan gesels oor die liedjie en die liefde.

WAAROOR GAAN VOORWAARDES EN WAT IS DIE GENRE?

“Hierdie is ’n liedjie oor die liefde. Dit gaan oor die voorwaardes wat jy het vir die persoon wie jy liefhet. Dit is daardie reëls wat nagekom moet word vir as jy my wil hê, maar hierdie voorwaardes is eintlik ten voordeel van beide in die verhouding. ’n Mens kan amper sê dis lekker voorwaardes, goeie reëls wat die verhouding sal bou en laat hou.”

WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER DIE LIEDJIE?

“Hierdie liedjie kom reg uit my hart uit. Ek het dit een aand geskryf vir een spesifieke persoon in my lewe. Hy het al vir ’n hele wyle my hart by hom en ek skryf toe vir hom “voorwaardes” om hierdie hart te bewaar. Die koorgedeelte sê juis aan hom:

So ek gee jou voorwaardes                                                                                       

Vat my hart en bewaar dit                                                                                   

Dan’s ʼn stukkie van my by jou                                                                                     

Moenie twyfel nie, doen dit gou                                                                                   

Dit is my voorwaardes.”

VERTEL ONS MEER VAN JULLE TROUE WAT AFGESTEL MOES WORD?

“Ek sou Voorwaardes op ons troudag vir my verloofde gespeel het. Ek het dit juis vir hom geskryf. Ons troue is ongelukkig al aan die begin van die grendeltydperk uitgestel tot ons eendag wel ons bruilof kan hou. Intussen kon ons nog nie trou nie as gevolg van die grendeltydperk se regulasies. Ons harte is baie seer daaroor, maar dan besef ’n mens daar is soveel groter dinge wat aan die gebeur is en dat ons so baie het om voor dankbaar te wees.”

Voorwaardes volg in die suksesvolle voetspore van haar vorige treffers, Maskers, Sterker en Verloor Myself In Jou, wat baie goed ontvang is en op die trefferparades van verskeie radiostasies gekuier het. Beide snitte kan nog gereeld oor die radio gehoor word.

Verder vorm dit ook deel van haar debuut-album wat in Junie 2018 uitgereik is, net voordat sy deurgedring het na die uitkloprondtes van die realiteitsreeks, The Voice SA, nadat sy die beoordelaars beïndruk het met haar hartroerende weergawe van Avril Lavigne se Head Above Water tydens die blindeoudisies. 

Sy beskou haar deelname aan dié reeks as een van die hoogtepunte van haar musiekloopbaan sover: “‘The Voice SA’ was een van die beste leerskole en ervarings wat ek in my lewe gehad het. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek sal ook die vriendskappe wat ek daar gemaak het vir ewig koester.”

Verona, wat in Meyerton woon, was vier toe haar talent ontdek is. Haar tannie sou haar by die skool kom optel en dan sou die twee uit volle bors sing op pad huis toe. Later is haar ma aangesê om haar vir sanglesse te stuur. Op 8-jarige ouderdom het Heidi Schoeman van die Ateljee van Uitvoerende Kunste haar ingeneem en het sy haar eerste liedjie by die Vereeniging Kunstefees opgevoer waarvoor sy ’n A++ gekry het. Gedurende haar skoolloopbaan het sy gereeld aand Eisteddfods, skoolkonserte en kunstefeeste deelgeneem. Sy het ook haar Trinity Concert Certificate voltooi. Vir vier jaar was sy deel van die Suid-Gautengse Jeugkoor, CollaVocé. Sy het so ’n bietjie musiekteorie gedoen, speel klavier en kitaar en probeer altyd nuwe uitdagings aanpak soos om die ukulele te bemeester.

Na skool het sy eers besluit om haar sangloopbaan opsy te skuif om te gaan studeer. By die Noord-Wes Universiteit se Vaaldriehoekkampus het sy haar honneursgraad in joernalistiek voltooi. Gedurende hierdie tyd het sy die kans gekry om vir wyle die karakter, Brionay, in 7de Laan te vertolk en was ook naaswenner van die realiteitsreeks op kykNET, Jy is my liefling. Sy en haar goeie vriend, Llewellyn du Plessis, was ook die vervaardigers en aanbieders van die ASTV-reeks, Vir Ewig en Altyd, wat oor die troubedryf gehandel het. Vir ʼn jaar lank het sy ook as omroeper by 90.6 FM Stereo, die Vaaldriehoek se plaaslike radiostasie, as mede-aanbieder van die ontbytprogram gewerk. As sy nie sing nie, is sy ook ’n knap joernalis en ’n sosialemediaspesialis.

Tans is sy, net soos baie ander, besig om van die huis af te werk om die pot aan die kook te hou. “Ek is besig met my eie besigheid, maar werk ook vir ’n tydskrif waar ek hul sosiale media beman en joernalistieke- en aanbiedingswerk doen,” gesels die musikant. “Op die stadium is dit ook moeilik om vir die onmiddellike toekoms te beplan. Alles is vreeslik deurmekaar, maar intussen probeer mens maar innoverend wees en geleenthede raak sien wat die toekoms kan beter maak.”

Die deernis en opregtheid waarmee Verona die lirieke van Voorwaardes met haar sterk stem deur elke noot verweef, tref diep en behou die luisteraar se aandag tot aan die heel einde. Hierdie liedjie is ’n bewys van hoeveel diepte die sangeres het om te bied en gaan beslis gewild wees by spesiale geleenthede.

Kry die enkelsnit op iTunes, Google Play, Deezer en Spotify.

Liefde wen op die ou einde altyd, want wanneer alles anders chaoties is, is dit wat jou staande hou.

Categories
Uncategorized

Lyk stylvol as jy troue beplan

’n Gesigmasker is hierdie seisoen se nuutste mode-item en as jy hom móét dra wanneer jy werk en troue beplan, kan jy net sowel stylvol lyk… klerekas.com kan jou hiermee help.

Die Covid-19 het ons lewens redelik kom deurmekaar krap en ons manier van leef ten minste vir die volgende paar maande kom verander.

Gesigmaskers gaan nog lank deel wees van 2020 se klerekas en as jy vergaderings oor jou troue gaan moet bywoon, kan jy netsowel stylvol lyk en – net soos wat jy sou met oorbelle en skoene – vir jou iets mooi uitkies wat jou voorkoms gaan komplementeer.

klerekas.com stel jou in staat om met die haute couture van gesigtoebehore jou nuwe normaal aan te pak. Dié kreatiewe eenstop aanlyn-klerewinkel, wat aan beide mans en dames se behoeftes voldoen – het pas ’n reeks ontwerpersgesigmaskers bekendgestel. 

Hierdie maskers is stylvol en in verskillende kleure, patrone, temas en groottes beskikbaar… sodat jy die wêreld kop-om-hoog en in die nuutste maskermodes in die oë kan kyk in hierdie uitdagende tyd en so ook jou deel doen om dié virus op sy plek te sit.

Buiten vir maskers, kan jy natuurlik ook jou klerekas aanvul of jou gevolg stylvol laat lyk met een van hulle unieke kledingstukke of bykomstighede.

Ons het met Rianca de Wet, die besturende direkteur van dié besigheid, gaan gesels oor hoekom hulle besluit het om maskers te maak en waar julle hierdie oulike toebehore in die hande kan kry.

HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM GESIGMASKERS TE MAAK WAT STYLVOL EN PRAKTIES IS?

“Ek het nooit aan die begin van die jaar gedink dat ’n gesigmasker so ’n treffer in 2020 gaan wees nie. Ons streef daarna om altyd ’n stappie voor te wees. Daar is baie besighede daarbuite wat gesigmaskers vervaardig, maar klerekas.com doen dit in styl. Elke item wat ons ontwerp, hetsy dit ’n paar vellies of ’n mooi rokkie is, kan altyd op twee maniere gedra word – formeel of informeel en daarom was ons dadelik geïnspireer om so ook die klerekas.com-stempel op ons gesigmaskers af te druk. Ons patrone en ontwerpe is alles behalwe vervelig, maar dit is ook stylvol en elegant en dit is die verskil! Dit maak egter nie saak watter uitdagings die seisoen inhou nie, ons leuse bly altyd: Uiteindelik, styl nes jy wil!”

VERTEL ONS MEER OOR DIE WERKSKEPPING WAT PLAASGEVIND HET AS GEVOLG VAN HIERDIE PROJEK?

“Hierdie maskerprojek het gedurende die uitdagende tyd vir 45 mense, van pakkers tot stiksters, werk geskep en hierdie mense kan nou elke aand vir hulle gesinne kos op die tafel sit. Deur hierdie moet-hê-mode-item deel te maak van jou klerekas, sal jy nie net die koppe laat draai nie maar ook bydra tot iemand anders se inkomste en voortbestaan.”

HOE HET KLEREKAS.COM ONTSTAAN?

“Johan, my vennoot, het gekla dat hy so moeg is daarvoor dat daar nie stylvolle knopieshemde vir mans is nie – alles is een of ander blokkiesraaisel met ’n vervelige skakering van gister se sondes – en ek het belowe om vir hom ’n knopieshemp te ontwerp wat sy asem sal wegslaan. ’n Hemp wat sy kollegas by die werk sal laat smag na bevordering. Ek het wel die belofte gebreek en sommer ses hemde, nege dasse, twee broeke en ’n strikdas ontwerp. Die res het gelei tot die geskiedenis waar Johan my arm gedraai het om nog olie in die naaimasjien te spuit om vir die hele Suid-Afrika klere te ontwerp vir alledaagse gebruik en spesiale geleenthede.”

WAT IS JOU GUNSTELING-KLEDINGSTUK IN JOU KAS EN HOEKOM?

“Sjoe,  hoe antwoord mens hierdie vraag. Van my hakskoene tot my sonbrille is daar nie regtig gunstelinge nie, want elkeen laat my op die regte tyd soos ’n supermodel voel. Maar ek moet sê dat my heel gunsteling-item ’n ring is. Ek werk baie laat nagte en vroeë oggende, ek ontmoet en skud hand ons kliënte en ek gaan staan voor die ontwerpersbord en skep nuwe reekse met hierdie einste hande en daarom herinner ’n ring my aan my vroulikheid, skoonheid en die genade van Bo.”

WAT IS DIE BESTE MODERAAD WAT JY NOG OOIT GEKRY HET?

“Trek elke dag aan asof dit jou verjaarsdag is!”

WAT IS JOU BOODSKAP VIR MENSE IN HIERDIE MOEILIKE TYD?

“Dis wêreldwyd ’n uitdagende tyd vir almal. Ons almal is onseker en die pad vorentoe is ongeken. 

Te midde van al die swaar en negatiwiteit, dink ek dis ’n belangrike tyd om op jou knieë te gaan en dankbaar te wees vir dit wat jy wel het en om ’n doelbewuste besluit te maak om positief te wees. Wanneer jy die manier waarop jy na dinge kyk verander, sal die dinge waarna jy kyk ook ook begin verander. Wees dankbaar vir jou gesondheid, jou verstand, vir die mense om jou en maak ’n doelbewuste besluit om eerder die mooi om jou raak te sien. In hierdie moeilike tyd is jou denke al wat ’n verskil kan maak.”

Om jou masker of gunsteling-uitrusting te bestel sodat jy kan stylvol lyk, besoek www.klerekas.com 

Foto: LR Photography

Categories
Troues

Beperkte troue met onbeperkte liefde


’n Beperkte troue met nie meer as ’n 100 gaste nie was Carli en Pierré se enigste opsie sou hulle besluit om voort te gaan met hulle troudag, as gevolg van die Covid-19 virus. Hulle het besluit om hulle gaste te beperk, sodat hulle, hulle onbeperkte liefde vir mekaar met ’n troue kon vier.

Categories
Skoonheid

Vlekkelose vel vir jou troudag


ʼn Vlekkelose vel is seker een van elke toekomstige bruid se begeertes vir haar groot dag omdat dit so groot invloed op jou algehele voorkoms het. Tog, soos ons almal weet is dit makliker gesê as gedaan.

Categories
Ander Beplanning

As jy jou troue moet uitstel


Suid-Afrikaners is van Vrydag af huisgebonde en paartjies wat binne die volgende twee maande sou trou, gaan moet uitstel. Hanteer dit so om dit vir jouself en almal anders makliker te maak.